Al Blaffend Moedelhoes

Posted in Net Klets on August 19, 2008 by Dis ek, Annie

Ek is nou moedeloos met hierdie winter.  Die grieperigheid trek nou vir ‘n tweede keer deur ons kantoor en hierdie keer het hy sommer alles ge-bypass en ditself direk op my longe gaan tuismaak,  Die dok het gesê boonste lugweginfeksie en my vir vier dae in huisarres gesit.  Dit sal die dag wees dat ek so lank van die werk weg sal wees en ek dink ek sal môre al voelers uitsteek na die kantoor se rigting.  Ek kan nie heeldag lê nie en by die huis bly vir my as vrou en moeder is net so goed ek gaan kantoor toe.  Ek moet nogsteeds taxi ry en regstaan agter die stoof en wasbak want my mansmense het horrelvoete en ronde handjies.  Maar laat ek net die stukke long gou optel dan is ek klaar gekla.  Soort van.

Ek vervies myself omdat daar sover nog net nie een week was wat ek regtig kon stap volgens die program wat ek vir myself opgestel het nie.  Dit is óf die mansmense wat my hulp nodig het (lees seun karwei) óf iets aan by die skool óf werk wat my wegvat uit my roetine en natuurlik die grieperigheid wat my kniehalter.  Ek kan sien hoe ek ten spyte van al die stop-start vordering gemaak het en van my kleiner broeke kom al aan.  Dit sit nog nie mooi nie en daar moet nog baie pad onder my voete deurseil voor dit gaan goed lyk, maar die vordering is daarin dat dit nie meer onder my saalsakke bly vassteek en nie verder wil gaan nie.  Ek het myself vandag bietjie bederf met ‘n nuwe fyn dingetjie of twee as beloning.

Ek het gesien hier het nog mense vir die eerste keer by my ingeloer.  Baie welkom aan julle.  Kuier lekker saam en deel gerus ellendes, verslankingsgeheimpies en julle suksesse met my.  Ek het ook gesien dat daar nog van die bloggers besig is met ‘n regrukaksie.  Ja, lente is in die lug en almal wil gou van die lastige wintervetjies ontslae raak.  My taak is groter omdat ek met twee winters en ‘n Kersfees of wat om my lyf sit wat moet gaan.  Ek is egter glad nie op ‘n dieet nie.  Ek eet trouens nou in volume meer as voorheen, maar ek eet gebalanseerd en baie gereeld en volg die basiese beginsels in die Eet-Heeldag-Dieet (Helen Foster).  Ek eet lekker en ek is altyd versadig en vol energie.  Ek wens net ek kan verkoues vryspring.

Ek het nou al twee keer uit die boek aangehaal oor hormone wat gewigsverlies beinvloed.  Ek haal vandag die laaste stukkie oor die derde hormoon aan:

Leptien, die hormoon wat honger bekamp

As jy dikwels bietjies eet, stimuleer dit ook die vrystelling van die hormoon leptien wat eetlus onderdruk. Dit word vrygestel nadat jy geëet het en die konsentrasie in die bloed word al minder hoe langer jy sonder kos bly.  As jy minder maar meer dikwels eet, word leptien gereeld vrygestel,  Dit beteken dat jy minder honger voel omdat jy gereeld kos inkry en ook omdat jy die produksie bevorder van die hormoon wat verhoed dat jy jou ooreet.  Volgens wetenskaplikes van die Universiteit van die Witwatersrand neem verslankers wat dikwels bietjies eet, normaalweg 27 persent minder kilojoules in as dié wat probeer om drie stewige maaltye te eet, maar hulle voel nie honger terwyl hulle dit doen nie, en jy sal ook nie.

Ek gaan kyk of ek hierdie gogga wat in my longe kom nesskop het vinnig kan verdring sodat ek weer op dreef kan kom.  Ek het baie kilometers om te stap in voorbereiding van die Big Walk.  Tot wederom…

Struwelende Stemme

Posted in Uncategorized on August 12, 2008 by Dis ek, Annie

Ek het mos al vertel dat ek die skaal Olga gedoop het en dat ek besluit het om Sonkind se voorstel te aanvaar om die pedometer Hitler te doop.  Die twee duitsers is nie my beste maats op die oomblik nie.  Ek en Olga is in ‘n titaniese stryd.  Sy reken ek verloor nie gewig nie en ek wys vir haar hoe sit my broek losser om my bene en hoe verdwyn my boonste bedeeldheid.  Maar nee, daardie blik bly afsydig en meerderwarig vol dat my gewig vassteek.  Vir weke al.  En dit maak my depro.   Nou hoor ek stemme.

Die een stem sê vir my dat ek myself onnodig mors, dat ek nie so vreeslik vet is nie, dat ek goed lyk vir my ouderdom en vir die feit dat ek twee kinders en twee groot operasies gehad het en dat ek moet aanvaar dat ek oud word en dat ek nie meer soos ‘n tiener kan lyk nie.  O jong, en sukkel ek om daardie stem te ignoreer!

Dan sê die ander stem vir my dat dit nou juis is omdat ek so graag die strond geglo het dat ek nou lyk soos wat ek lyk en dat ek nou so hard moet werk om weer tevrede te voel.  Hierdie ander stem vertel dan vir my dat ek dit voorheen kon doen en dit weer sal regkry as ek net deurdruk en glo dat ek kan.  En hierdie ander stem herinner my dat ek ‘n allemintige klerekas vol kleiner klere het wat wag om uigepak te word en dat daar somergoedjies hang wat skaars gedra is. 

Dan kom tjip die eerste stem beterweterig in en vertel weer vir my dat daardie klere nie eintlik in die mode is nie en dat ek als mis as ek nie vir my nou nuwe goed koop en net vrede maak met my lyf en die lewe geniet nie.

Dan praat die ander stem die eerste stem dood en sê vir my dat ek nie gesond en gemaklik voel terwyl ek vet is nie en dat ek nie selfvertroue het nie en dat ek nie die moet luister vir die lui stem nie, want ek gaan nie gelukkig wees nie en dat ek altyd gaan bly smag na daardie gemaklike lyf en dat ek altyd skaam gaan voel oor my dimpelboude wat so groot is. 

Nee, ek is nie mal nie.  Ek dink baie van ons wat so wipplank verhouding met ons figure het soos wat ek het, het al soortglyke kopredenasies gehad.  Ek sukkel nou net omdat ek vinnig my eerste plato bereik het en soveel harder moet werk om deur te breek as in die verlede.  Die jare maak dit moeiliker - beslis.  Maar nie onoorbrugbaar nie.  Nie terwyl ek gesond is nie. 

Ek weet spiermassse is swaarder as vetmassa.  Ek weet met die gereelde oefening bou ek spiere op - ek kan dit voel.  Ek kan net nie glo dat die simpel Olga-blik nie net so bietjie wil afskuif nie.  Gits, sy vertel my nou al ‘n maand dieselfde ding.

Dan praat ek nie eens van die liegstories wat Hitler vertel nie.  Toe hy twee dae oor dieselfde afstand vir my verskillende stories vertel het, het ek my motor gevat en die afstand gaan meet.  So lieg hy al die tyd net so hard was wat daar oor die 8 duim storie gelieg word.  Ek het nog die heeltyd op 2.1km huis toe gedraai en het dus so 4km gestap.  Hitler het sommer ‘n hele kilometer afgetrek.  Vandag het ek verder gestap om 5km vol te maak (gemeet) en Hitler was reg ingestel en het saamgestem.  Hy is vir nou veilig en sal nie getrap word dat daar net stukkies spat nie.  Voorlopig.

Ek het anderdag aangehaal oor Kortisol, die boepmaaghormoon.  Vandag haal ek die stukkie oor Insulien aan (my nemises).

Insulien, die suikerverskuiwende hormoon (uit Eet-Heeldag-Dieet deur Helen Foster)

Dieselfde Toronto-eksperiment het ook getoon dat die insulienvlakke van mense wat dikwels bietjies eet, dramaties gedaal het.  Dit kan eienaardig klink vir iemand wat ‘n basiese kennis van biologie het.  Wanneer ons eet, skei ons liggaam insulien af om die suiker wat van ons kos verkry word, na ons spiere, of as daar ‘n oormaat is, na ons vetreserwes te verskuif (met die maagomgewing weer die gunstelingstortplek).  Deur kortisol te verminder, verminder jy ook insulienproduksie omdat hulle saamwerk, maar die belangrikste is dat jou liggaam baie minder insulien afskei as jy matige maaltye of ligte happies eet as met die groot maaltye van ander dieetprogramme.  Dit verlaag die algehele insulienvlakke van die liggaam en is heilsaam omdat gereelde blootstelling aan hoë insulienvlakke veroorsaak dat selle nie so maklik daarop reageer nie.

Ontbytverskoning

Posted in Eetgoed, Verskonings on August 5, 2008 by Dis ek, Annie

Dit is tyd dat ek weer ‘n slag gesels oor my verskonings vir hoekom ek verkeerd geëet het en so sleg begin lyk het.  Ek lees baie oor dieet en gesonder leefwyses en het al in die stoel oorkant ‘n dieet-kundige gesit omdat ek tydens my swangerskap met hoë bloedsuiker, die sogenaamde swangerskap diabetes, gesukkel het.  Uit al die bogenoemde was dit duidelik dat ontbyt die belangrikste maal van die dag is.  Ek stry nie.  Sal ook nooit weer nie.  My gunstelingverskoning al die jare was dat ek nie ‘n ontbytmens is nie  en dat ek nie so vroeg kan eet nie.  Ek het geweet ek is verkeerd, maar het voortgeploeter.

So het ek dus ontbyt gemis en gemik om teen 10:00 iets te eet. Ek het altoos maar besig geraak en 10:00 sou kom en gaan en dan is ek teen middagtyd ook te besig en het ek die etery gelos en enige honger versuip met nog ‘n koppie koffie.  Teen 16:30 het ek begin vreet soos ‘n ruspe nadat ek vinnig by die winkel aan was vir brood en melk.  Die sjokoladestafie is gewoonlik by die eerste verkeerslig, net so slap regs van die parkeerterrein, al half verslind.  Die petrol in my motor se tenk het nog nie eens ophou klots nie, dan was die eerste toebroodjie al in die hand saam met ‘n koppie koffie en ek was rustig voor die TV of dalk was ek al agter die kospotte besig met aandete.  Aandete waarvan my porsie hopeloos te groot was en dit was nie lank na aandete nie wat ek alweer vir ‘n koekie of iets dergerlikgs gesoek het. 

Hopeloos verkeerd!  Ek het dit geweet en dit nog steeds aan myself gedoen.  Soos ek nou hier lees hoor ek my seun se gunsteling “one sick puppy” wat hy gebruik vir iemand wat nie ‘n grip het op die lewe nie - gewoonlik verwys hy daar na die mense wat hulleself kerf en ander snaakse dinge aanvang om aandag te kry.  Was wat ek aan myself gedoen het regtig anders?  Ek wonder net soms hoekom ek dit voorheen reggekry het om die regte koers in te slaan en lank daarmee vol te hou voor ek weer ontspoor het.  Ek dink ek ken die antwoord.  Ek weet net nie of ek reg is om die “beans” nou al hier te “spil” nie.

Ek kan net nog steeds nie vetterige kos vir ontbyt face nie… dan voel ek soos ‘n pregnant fairy en begin die rigting na die ablusie te plot.  Ek het onlangs in ‘n ontbytkamer by ‘n hotel maar swaar gekry onder die reuke van die ontbytspek en ander eetgoed wat in olierigheid gaar gemaak is.  Ek het vrugteslaai, joghurt en muesli geniet; vars en lig, maar tog vullend en heilsaam.

Nietemin…. ek haal weer ‘n stukkie uit my gunsteling boek aan en ek kan net beaam dat dit wat daar staan in die kol is. 

Sit Ontbytverskonings op hul plek

Baie mense wil nie soggens vroeg eet nie omdat hulle geen eetlus het nie.  Eienaardig genoeg kan dit juis wees omdat hulle nie ontbyt eet nie.  Kilojoules wat vroegoggend ingeneem word, is geweldig vullend sodat ons later in die dag minder eet.  As jy egter nie ontbyt eet nie, is dit meer waarskynlik dat jy jou saans sal ooreet en jou eetlus in die oggend bederf.  As jy ‘n gewoonte daarvan maak om ontbyt te eet, sal jou eetlus terugkom en nadat jy twee of drie dae soggens iets lig geëet het, sal ontbyt meer aanloklik lyk.  Jy kan gerus begin met vrugteslaai, vrugteskommels of mueslistafies wat jou nie oorvol laat voel nie. 

Mense het dikwels ook nie tyd om ontbyt te eet nie.  Vergeet van lastige kos wat jy moet gaarmaak of week en kies ‘n ontbyt wat jy sommer so in die verbygaan kan eet soos vrugte-en-neutstafies  (resep volg).  Jy kan hulle tot vyf dae in die yskas bêre, dus kan jy naweke ‘n klompie maak en net elke dag een gryp.  Ander moontlikhede is ryskoekies met grondboontjiebotter en vrugte, vrugteskons met konfyt of ‘n gekoopte mueslistafie met vrugte en ‘n glas melk.

Vrugte-en-Neutstafies

65g koekmeel
250g ontpitte dadels, grofgekap
50g bruinsuiker
1 teelepel bakpoeier
1 teelepel fyn kaneel
150g pekanneute, grofgekap
2 groot eiers, liggies geklits
4 eetlepels canola olie
4 eetlepels grofgesnyde laesuikermarmelade of appelkooskonfyt
  1. Sif die meel in ‘n groot bak en meng die res van die droë bestandele daarby.  Roer die geklitste eiers en olie by en meng goed.
  2. Smeer en voer ‘n vierkantige 15cm-pan. Giet die mengsel in die pan, maak die bokant gelyk en bak vir 30-35 minute of tot die bokant ferm is in ‘n voorverhitte ood teen 180°C (gasstelling 4).  Laat vir 10 minute in die pan afkoel en keer dan op ‘n draadrak uit.
  3. Verhit die marmelade of konfyt in ‘n klein kastrolletjie en bestryk die bokant van die koek daarmee.  Wag tot dit koud is en sny in 12 stafies.  Die stafies kan tot vyf dae in ‘n lugdigte houer gebêre word.
Voedselinligting
Kalorieë 230
Kilojoules 966
Proteïen 9g
Koolhidrate 20g
Vet 15 g

R.I.P.

Posted in Net Klets on August 3, 2008 by Dis ek, Annie

Ek kan nie lank kuier nie… daar is net nie tyd nie.  Dinge het kwaai deurmekaar geloop vir my die laaste paar dae en tot my spyt moet ek erken dat ek vir werk weg was en in die hotel kwaai ontspoor het. 

Die sadness is dat my Vitality pedometer in die slag gebly het.  Hy het hard met die vloer kennis gemaak in die kleedkamer en dit is die einde daarvan.  Ek het my Shape Pedometer uitgepak, maar ek en die ding is nie goeie maats nie.  Sal maar nog sien of ons oor die weg kom.  Ek dink hy is familie van Olga - suinig met die treë.  Hoe kan die ding vir my sê dat na ‘n hele dag se gewoel met huis skoonmaak en wasgoed was en agter die hond aan draf ek net so 500 treë gestap het?  Goed, ek het my tree op 50cm een gestel en ek dink darem nie dat ek sulke groot treë gee oor die algemeen nie.  Ons sal maar sien of dit werk.  Intussen gaan ek die ou pedometer se stats delete en ons begin van voor af.  Bietjie sad.  Hier is die Shape Logboek se skakel - daar is een onder my blogroll ook.  Daar is nog niks in nie… en ek dink ook nie ek gaan by stap kom vandag nie.  Alweer.  Nog steeds.  Frustrerend!

Ek het vir Olga vermy vandat ek terug is van die werksessie af.  Ons gee mekaar sulke kyke - ek half verskonend en sy met daardie “ek het jou gewaarsku” houdingkie van haar.  Ek sal haar aan die einde van die week eers weer aandurf.  Ek voel te broos op die oomblik.

Ek soek ‘n naam vir my nuwe pedometer aangesien ons aan die heup verbind gaan wees vir ‘n lang tyd.  Enige voorstelle?  Dink maar Duits… ‘n boertjie kan nie so afsydig en suinig wees nie en ‘n engelsman sal hom nooit verwerdig om hom op te hou met my probleem nie en ek glo in elke geval nie ‘n woord uit ‘n fransman se mond nie.  Miskien maar iets soos Karl?  Olga en Karl?  Sê maar…

Geniet ‘n rustige Maandag!

Wow, Wat ‘n Gevoel!

Posted in Uncategorized on July 30, 2008 by Dis ek, Annie

Na twee weke van geen of min stap as gevolg van die vreeslike reën en toe ‘n griep wat my plat op my rug gedwing het, het ek gister vir die eerste keer weer my tekkies aangetrek en die pad gevat.  Toe my hond sien ek maak die KFM waterbottel vol en haal my tekkeis uit die kas uit, toe wys hy uitbundig die jippie gevoel wat hom beetgepak het.  Ek sweer ek kon die brak sien smile…

Ek is voel nog maar so bietjie aan die papperige kant na die griep en het die stappie maar effens rustig gevat.  Ek kan egter nie glo hoe goed dit voel as my hartklop versnel en die vars koel luggie oor my vange vee en ek dit diep in my longe intrek met elke tree wat ek gee nie.  Heerlik.  Ek wonder hoe ek vir so lank so onaktief kon wees.

So net voor ek griep gekry het was daar ‘n vrou by ons kantoor wat ons kom meet en weeg en skandeer het.  Nou nie sommer vir die lekkerkry nie; dit is natuurlik om ons te oortuig om van die doepa en poeier wat sy smous te koop.  Ek dag toe dat sy my maar in elk geval kan evalueer dan weet ek mos wat die slim mense sê.  Ek trek toe so mooitjies my skoene uit en haal alles wat los is en kan bydra tot die skaal se taal af.  Ek moes my kousies ook uittrek want die skaal is nie Olga nie…. o nee, dit is ‘n madame!  Dit stuur elektriese impulse deur jou liggaam wat dan lesings registreer van ‘n paar dinge.  Toe ek nou weer behang en geskoei is en op die stoel oorkant die vrou plaasneem en sy begin met haar terugvoer het ek besluit dat Olga glad nie so slegte stuk blik is nie.  Daardie gemanikuurde madame wat my gelees het, het te vertelle dat ek “obese” is.  Vetsugtig!  Ekke?  Ek is dik, maar ek het ‘n middel en ek het nie ‘n dubbel ken nie en ek het nie hangwange nie, so waar kan ek vetsugtig of “obese” wees. Daardie madame is van glas en ek was lus en maak van haar splintertjies!  Verder is ek redelik erg gedehidreer.  Ek wat meer as agt glase water buiten my koffie en sap drink, is gedehidreer?  Nonsens!  Dit is toe die vrou vir my vertel my metaboliese ouderdom is oor 50 dat ek my lippies dun getrek het en gesê het ek moet gaan werk en ek sal haar bel.  Net voor ek daardie deur agter my toegetrek het, het ek gevra of die roompies wat moet keer dat mens oud word regtig werk en of sy dit gebruik.  Sy het toe mooi gesidestep en gesê sy het dit lanklaas gebruik.  Ook maar goed so want ek was reg om vir haar te sê dat sy haar geld mors.  Ek moes net ‘n stekie terugkry.  Maar ernstig nou, ek neem dit wat sy gesê het met ‘n knippie sout op.  Al wat ek van die sessie weggeneem het, is dat ou Olga nogal nie ver uit is nie. 

Ek is baie opgewonde oor die vordering wat ek maak en met hoeveel gemak ek dit doen.  Ek eet glad nie min nie.  Ek straf myself geheel en al nie.  Ek eet net “sensible”.  Trouens, ek eet soms meer per dag as voor die regruk begin het.  Ek eet dit net nie als in een periode nie.  Ek en Olga vermy mekaar.  Vir my gaan dit nie so veel oor wat ek weeg nie, maar hoe my klere aan my sit en hoe ek voel.  My klere raak al hoe losser en my bene begin weer definisie kry.  Mense wat my vir ‘n rukkie nie gesien het nie lewer kommentaar oor die verandering.  Dit is net die katterige Olga wat nie mooi goed wil sê nie.  Ek moet darem ook bysê dat ek lanklaas op haar was. 

Ek haal gou nog ‘n stukkie aan uit die boek wat nou neffens my Bybel lê….

Kortisol, die boepmaaghormoon

Kortisol is ‘n streshormoon wat vrygestel word as jou maaltye te ver uitmekaar is.  Dit word deels vrygestel omat die liggaam “honger” as stres ervaar, maar ook omdat kortisol help om spiermassa af te breek wat jou liggaam inspan om vinnig energie te voorsien.  Kortisol help egter ook om die oortollige kilojoules wat jy inneem, in jou vetreserwes te berg - veral dié om die maag.  Dit is nie goed vir jou middelmaat nie, maar ook uiters sleg vir jou gesondheid.  ‘n Hoër persentasie sogenaamde intra-abdominale vet is een van die vernaamste aanduidings van ‘n verhoogde risiko vir hartsiekte.  As jy dikwels klein maaltye eet, sal jou kortisolvlakke verlaag omdat jou liggaam nie behoefte sal hê aan daardie noodvoorraad energie nie.  Eksperimente deur Dr David Jenkins by die Universiteit van Toronto het getoon dat klein maaltye dwarsdeur die dag kortisolvlakke binne net twee weke met 17 persent verminder het. 

Uit ‘Eet-Heeldag-Dieet” deur Helen Foster

Nou ja, dit is kortom voor die naweek en miskien kan ek darem vir Fred aan die gang kry om weer hier te kan kom kuier teen die einde van die naweek.  Anders sien ons mekaar volgende week.  Ek skuld beslis ‘n geselsie oor my ou verskoning waaraan ek vir jare desperaat aan vasgeklou het…. my stadige metabolisme.  Meninge vrou se verskoning.  En ek glo nou menige vrou se eie skuld.  Myne in elk geval.

Vir nou sê ek Wow, ek voel great en ek hou koers!

Hondsiek… onaktief, maar op koers

Posted in Eetgoed on July 19, 2008 by Dis ek, Annie

Ten spyte van vragte sitrus in my dieet en die feit dat ek aanvullings drink, het die verkoue wat my ge”ankle-tap” het, my grond toe gebring.  Mens, ek voel goor by tye.  Ek is al vroegmôre op want ek is seer gelê en sit vir ‘n wyle met koffie in die hand agter FRED. 

Ek het ‘n rowwe week agter die rug.  Een van laat werk en hardloop van die oggende tot die aand en van stap was daar geen sprake nie.  Ek het ‘n punt daarvan gemaak om die trappe by die werk op te draf.  Gelukkig is ek nogal in en uit en draf ek daardie trappe meer as een keer per dag uit.  Gister het dit maar gesukkel met die verkoue wat toe reeds sy kloue ingeslaan het.  Nietemin, ek raak verder en verder agter op daardie tikkertjie en ek sal moet plan maak!

Ek is ‘n lid van Leserskring.  Vir al amper 20 jaar.  Elke kwartaal dreig ek om my lidmaatskap te staak en dan bestel ek maar in elk geval ‘n boek en so gaan dit voort… Ek gaan haal my boeke af, dus betaal ek nie posgeld en verpakking nie.  Ek ry ook nie ekstra brandstof uit nie, want dit is op my amptelike roete.  In elk geval, die maand het ek toe, omdat ek besig is met hierdie poging, vir my die Eet-Heeldag-Dieet bestel.  Baie interresant!  Dit is nogal wat ek aan glo en wat ek na jare se ondervinding self agtergekom het.  Ek kan egter die boek beslis aanbeveel; veral omdat daar interresante idees is vir eetgoed sodat jy nie verveeld sal raak nie.  Volgens die boek moet mens 6 keer per dag eet.  Ek eet tans vyf keer per dag.  Mens mag tot aan my gunsteling sjokolade peusel!  Verder word my pa se beginsel van “eet-die-helfte” toegepas.  Nou dus nie eintlik nuus nie, maar beslis ‘n goeie kopie met lekker geselsstukkies en verduidelikings hoekom dinge gebeur as jy die raad volg.  Ek haal stukkies aan….

Die Beste Ontbytkos vir Verslanking

Hoewel jy makliker gewig sal verloor as jy ontbyt eet, is baie van die kossoorte wat ons gewoonlik vir ontbyt eet, werklik bevorderlik vir verslanking.  Die belangrikstes is:

Pomelo’s  Dit maak die liggaam meer sensitief vir insulien, die hormoon wat verberging aanhelp, en kan dus help om insulienvlakke in die liggaam laag te hou.  In toetse by Scirpps Research Institute in San Diego het mense 4.5kg in drie maande afgeskud bloot deur hul maaltye met pomelo’s of pomelosap te begin.

Melk en Suiwelprodukte  Navorsing by die Universiteit van Tennesee het getoon dit help die liggaam se vetverbranding aan deur selle wat vet berg te verander na selle wat vet verbrand.

Ontbytgraankosse  Dit bevat baie vesel (wat in die liggaam verbind met vetmolekules sodat jy minder vet absorbeer) en is ‘n goeie bron van yster wat noodsaaklik is vir gesonde metabolisme.

Eiers  Navorsing by die Universiteit van Rochester in die VSA het getoon dat mense wat eiers vir ontby eet, daardie dag en die dag daarna minder kilojoules inneem.  Blykbaar bevat eiers ‘n protein wat besonder vullend is.

Verderaan word gevra…

Het jy vandag al trappe geklim?

Kenners by die Universiteit van Noord-Carolina in die VSA beraam dat mense wat net twee stelle trappe per dag klim (pleks van die hyser by die werk of die roltrap by die winkelkompleks te gebruik) 2.7kg per jaar kan verloor sonder om enigiets aan hul dieet te verander.

Hoewel daar geen spesifieke oefening voorgeskryf word by hierdie dieet met veelvuldige maaltye nie, kan jy ‘n gewoonte daarvan maak om elke dag soveel bykomende aktiwiteit moontlik in te sluit.  Koop verkieslik ‘n pedometer en mik na die aanbevole 10,000 treë per dag.  Dit sal 2100 ekstra kilojoules per week verbrand en jou gewigsverlies met 0.4kg per week opstoot.

Gewoontes soos om die verste parkeerplek te gebruik, die kleedkamer op die verdieping bo jou kantoor te gebruik of selfs net op te staan wanneer jy telefoonoproepe maak (wat sowat 30 persent meer kilojoules verbrand as om te sit), kan alles help om jou meer gewig te laat verloor.

Ek stem beslis saam met die stukkie - ek pas dit toe en dit werk!  Ek mik vir 10,000 treë en kry dit nie altyd reg nie,  maar verloor beslis en gelykmatig gewig en meer as dit, sentimeters.  Ek sal later nog ‘n stukkie aanhaal oor abdominale vet wat verband hou met insulien en wat by my dramaties afgeneem het in die laaste paar weke. 

Kyk gerus by die boekwinkels uit vir die boek en blaai deur dit.  Dit is deur Helen Foster.  As ek die krag bymekaar kan skraap, bak ek vir my vandag Vrugte-en-Neutstafies om te bêre vir ontbythappies.  Ek wens my pa kom vinniger kuier sodat ek die Eierpoffers met broccoli en spinasie kan maak en met hom kan deel.  My seun sal dit eet, maar nie my man nie.  Die resep is vir twaalf en ek mag drie eet vir ontbyt. 

Ek luuuuv die peuselgoed… Oggendpeuselhappie… sowat 30 klein swart of groen olywe (so in my kraal!) of 6 kersietamaties met 2 kaassmeerdriehoekies of 125g laevetjoghurt met 2 hande vol aarbeie of bloubessies ens ens ens.

O Koek, afsydige Olga is nydig!

Posted in Net Klets on July 15, 2008 by Dis ek, Annie

Wie onthou vir Konings en Torings…. en die ou wat altyd so “O Koek” gesê het van Santie wat haar so fancy gehou het…. Ek is nie fancy nie, ek is net besig.  Ek voel soos ‘n suikermier wat wil haastig maak, maar net nie koers kry nie en dan in die rondte draai.  Al gesien? 

Die Blik en ek het al weer ‘n kil verhouding.  Ek het myself die naweek pap gewoel en my jis afgestap en daardie blik het Maandagoggend haar bekkie op so klein knopie getrek en haar kop vermakerig geskud en skouertjies opgtrek.  Niks.  Mahala.  Soos altyd sal ek dit my nie laat onderkry nie en aanvaar ek Die Blik se uitdaging… ek sal haar wys.  As ek met haar klaar is, gaan daar net veertjies ek skroefies oor wees.   By Vernon Koekemoer het ek geleer wie laaste lag, lag die lekkerste en die langste. Ha! Ek dink Die Blik moet ‘n naam kry.  Ek dink Olga sal pas.  Sy klink of sy ‘n kwaai Duitser kon wees en net moet hakkies klap voor sy so met haar knopie mondjie langs haar neus af kyk vir my.  Olga, Die Blik(sammajoor).  Pes.

My werkgewer het so lekker Wellness storie met gratis evaluasies en ek het my naam ingestuur.  As ek die ding reg verstaan, gaan hulle sommer kyk hoeveel vetjies sit om my organe ook.  So iets.  Ek is nogal heel nuuskierig om te kyk hoeveel skade ek myself nou eintlik maar so oor die jare berokken het.  As dit baie stil raak hier rond dan weet julle sommer die tikkertjie het ophou tik van skrik toe daardie masjien vir my die volle waarheid vertel het.

Ok Girls, en Undercover Guys, ek het ‘n datum vir die groot stap.  Die Discovery Cape Times Big Walk vind plaas op 09 November 2008.  Ek gaan inskryf sodra die spulletjie oopmaak vir die jaar.  Ek volg die oefenprogram van verlede jaar se so hard as wat ek kan.  Dit is as die weer my toelaat.  Anders klim ek maar my fiets na nêrens as ek tyd het.

Sondag was weersgewys een van daardie dae wat as “awesome” in my boekie opgeteken is.  Ek het gaan bultop stap in Parow Noord.  Het nogal baie ander stappers en drawwers met dieselfde gedagte daar raakgeloop.  Met honde en sonder honde en ek is nie al een wat van agter lyk soos ‘n sak vol stoeiende hondjies nie.  Ek kan myself darem op die skouer klop dat ek tot heel bo teenaan die N1 kan stap sonder om te rus en sonder om te erg te blaas.  Ek is nie heeltemal onfiks nie.  Nietemin, terug na die awesome dag… as jy lees van ‘n “balmy afternoon”… dit was dit.  Ek het met ‘n kortmou T-hemp geloop en die son op my vel ingedrink.  Daar was nie sprake van ‘n koue wind nie ten spyte van die spierwit pieke van die berge in die verte in die Boland se rigting.  Mens kon sien tot daar waar die berge punt maak by Simonstad se kant en Tafelberg was ‘n vrolike helderblou sonder enige teken van die goor weer wat ons net voor die naweek gehad het nie.  Ek het voëls hoor sing asof die lente, wat nog weke weg is, reeds hier is. 

Wat ‘n voorreg was dit nie om gesond en aan die gang te kon wees en te kon stap nie.  Tree na tree het die bloed in my are gebruis en het ek die energie van hierdie nuwe rigting wat ek ingeslaan het, in my voel pols.  En ek het besluit, kom wat wil, maak nie saak hoe hoog die berg voor my is of hoe laag my gemoed daal nie, ek sal nie weer toelaat dat ek op ‘n klip gaan sit en pap, vet en sonder sprankel raak nie.  So baie male hoor ek nou weer dat ek jonk lyk vir my jare.  En ek geniet dit.  Ek het dit lanklaas gehoor en ek het dit gemis.  Ek wil dit nie weer verloor nie.  My Mojo, waaroor ek nog moet gesels, is amper terug!

Pssst….

Posted in Net Klets on July 10, 2008 by Dis ek, Annie

Ek is pootuit van die gewoel by die werk die laaste paar dae en stop net baie vinnig hier om te sê dat Die Blik en ek nou weer op goeie voet verkeer!  Toe ek gister op hom klim, het hy mooi woordjies in my ore gefluister en ek was uit my vel uit van vreugde.  Ek het sommer ‘n heel nuwe huppel in my stap na die weegsessie.

Dit is egter waar daar ‘n ding in die water geval het… die stap storie het die week bietjie verder agter geraak as gevolg van die reën.  Ek sal moet wikkel om op te maak en ek sal.  Ek wens net ek kan nog ‘n uur of twee by die dag bylas!  Ek kan seker nie hier kuier en kla oor tyd nie, so hier gaat ek.  Ek loer weer die naweek in - dit is tyd op weer verskonings en probleme uit te pluis.  Ek het so twee jaar terug ophou rook…. maar wag, dit is ‘n storie vir ‘n ander dag!

O ja, by die kantore waar ek nou werk is daar nie hysbakke nie.  Ek moet twee stelle trappe op van die kelderverdieping af.  En ek rits so drie tot vier keer per dag daar op en af!  Dit is mos ‘n oefeningbonus op die baas se rekening!

Pomelo’s en Stomp Tande

Posted in Eetgoed on July 6, 2008 by Dis ek, Annie

Ek wou ‘n vroegoggendstappie ingekry het, maar soos dit die laaste drie dae was, is dit nog steeds donker en koud en nat daar buite.  Ek wil nie waag om te stap en in die reën vasgevang te word nie.  Die gevolg is natuurlik dat my tikkertjie al met ‘n week agter is en môre gaan daar nog 70,000 treë bykom.  O koek, ek raak ver agter!

Ek het belowe om oor my ding met pomelo’s te skryf.  Ek het net een probleem en dit is dat my engels na afrikaans woordeboek soek is en dat ek en sukkel met die terme wat ek net in Engels ken.  Nou gaan ek sommer so bietjie ligweg oor dit gesels en as jy graag wil sien wat is alles in ‘n pomelo, kan jy die skakel verderaan volg.  Ek moet net bevestig dat daardie twee sakkies pomelo’s op is en net deur myself genuttig is! 

Ek verkies die Ruby Red variant en dit is geredelik beskikbaar.  Ek kou lankal nie meer nie die vleis nie,  omdat dit my tande laat “stomp” voel.  Ek druk vir my elke oggend, en soms saans as die lus my beetkry, ‘n glas sap uit waarin ek die sap van een lemoen ook bysit.  Ek gebruik geen suiker of versoeter nie.  Ek vind die sap heerlik verfrissend en vullend.  Ek laat soveel vesel moontlik deur met die uitdrukslag, wat ek met die hand doen. 

Volgens wat ek kon gaan oplees was daar in die 80’s ‘n geweldige aanhang van die pomelo dieet.  Ek glo nie aan dieet nie en in besonder nie aan diete wat op sekere voedelsoorte konsentreer nie.  Ek verkies om te eet soos die dieetkundige aanbeveel het toe ek met hoë bloedsuiker (diabeet grensgeval) na haar verwys is.  (Dit is juis as ek van die aanbevelings afwyk dat my gewig toeneem.)  Ek drink die pomelosap as een vrugteporsie en dit is hierdie porsie vrugte wat amper aan my hele daaglikse behoefte vir vitamien C voldoen.  In die winter is dit beslis ‘n wenner.

Daar is ‘n hele klompie ander voedingsvoordele waaroor jy self hier kan lees.  Dit is interresant dat die mense wat weet reken dat daar kankerwerende voordele ook is.  Ek vind dat dit beslis help met my spysverteringsstelsel.  Ek ondervind vir weke nou geen simptome van IBS nie.  Dit mag wees omdat ek wel produkte van wit verfynde meel heeltemal uitsluit en dus ook my gluten inname beperk is, maar pomelo’s is veselryk en saam met my weetbix in die oggend is dit seker ‘n goeie kombinasie om my gereeld en gemaklik te hou.

Ek was verbaas om te verneem watter medikasie se absorbsie deur die vrug geinhibeer word.  Ek wonder of dokters uitvra na die eetgewoontes van hulle pasiënte as die medikasie voorgeskryf word.  Ek het my handvol voorkomende doepa gesluk sommer so met die sappie totdat ek van die inhiberende effek gelees het en ek sluk nou maar die goed saans na ete.  

Ek en my stout natuur het lekker lag gekry toe ek die stukkie lees en sien dat Viagra se absorpsie geinhibeer word.  Verbeel jou dat ‘n man die blou pilletjie sluk en omdat dit nie lekker wil werk nie, sluk hy maar nog ene maar doen dit dieselfde dag dat hy nie pomelo geëet het nie.  Verbeel jou dan ou Ubu staan met alle mag op en hy kry Ubu net nie weer laat sit nie.  Jip, ek weet, tik maar oor die vingers, ek lag oor iets wat potensieel ‘n tragedie kan wees omdat gevaarlike toksiese vlakke in die bloed kan opbou (kyk maar onder die hoofopskriffie Viagra).

Nou ja, my ontbyt het reeds gesak en al is dit so donker buite dat ek ligte binne die huis aanhet teen amper teetyd, wag daar takies wat getakel moet word waarby ek gister nie uitgekom het nie.   Dit reën weer swaar.  Ek kry die mense sonder behoorlike huise vandag bitter jammer in hierdie koue en ek is dankbaar vir die dak oor my kop en my warm klere en beddegoed en veral dat dit droog is.  Ek sal nie mor en kla oor ek nie kan gaan stap nie.  Ek dink ek gaan my mense met pannekoek bederf (koop by Die Pannekoekman) al eet ek nie saam nie.

Bietjie Teruggesels…

Posted in Net Klets on July 2, 2008 by Dis ek, Annie

Hey julle!  Dankie vir die inloer… ek kan nie lekker in die dag gesels nie.  Ek werk in ‘n oopplan area en moet voorbeeld stel vir die juniors en wegbly van speelplekke op die net.  Die assistente het nie vrye toegang tot die net nie en kry dik lippies as ons seniors opgaan - nou los ons maar.  Ek weier egter om gmail af te sit en sien as julle inloer al kan ek nie antwoord nie.

Wipnues, ek het vandag soos ‘n miljoen dollar gevoel en ek weet dit wys.  Dit is wat tel.  My postuur is 100% beter en almal sien dit raak.  Mense reageer positief terug.  In my nuwe projek is dit baie belangrik dat ek selfversekerd oorkom sodat ek oortuigend kan wees.  Mens kan dit net doen as jy goed voel oor jouself.  Ek voel goed.  Baie beter as ‘n maand terug.   Ek is net vanaand baie moeg. Dit is egter ‘n lekker moeg.  Ek is net bietjie bekommerd dat ek dalk begin verkoue kry en dit is snaaks want ek is seker my vitamien C inname grens aan ‘n oordosis.  Ek neem ook elke dag Viral Guard juis omdat ek nie lus is vir die verkoue/griep ding nie.

Ek wens ek kan heeltemal beskryf hoe ek die stappie geniet en wat ek alles waarneem en ervaar.  Ek sien die Boland berge elke aand as ek oor die brug stap en elke aand is die kleur anders en soms is dit skerp en donkerblou afgeëets teen spierwit wolke.  Wanneer ek terugstap, stap ek ten die sakkende son in en as ek dan weer oor die brug stap, lê Tafelberg in my gesigsveld en dit is ook elke aand ‘n ander kleur en lyk nooit dieselfde nie.  Ek word menige aand met die mooiste sonsondergange bederf.  Ek begin ook nou saans dieselfe stappers en drawwers raakloop.  Dit is heerlik as die bloed so deur my are bruis en my bene daagliks sterker voel en my voetval ligter en meer ritmies raak.  Selfs die hond begin nou mooi in die ding in kom… Ek is ook baie in my noppies dat ek vandag weer vir ‘n verandering meer as 10,000 treë gestap het.  Dit is nie so maklik nie; dit is nou maar eers my derde keer in ‘n maand. ’n Haastige stappie in ‘n winkelsentrum oor etenstyd is die oplossing vir daardie probleempie….